Thursday, April 18, 2024

Waarom doen ek ‘n kreatiewe Bybel joernaal en wat is dit?

 Een van my gunsteling dinge om te doen is om elke more vroeg tyd saam met die Here te spandeer! My dag begin net nie reg ek nie hierdie kosbare tyd saam met Jesus gehad het nie. Ek sien uit daarna om Jesus se stem te hoor en nuwe dinge van Hom te leer en dieper te groei in die dinge wat ek reeds geleer het.

Wanneer ek tyd met Jesus in die Woord spandeer dink ek nie aan prentjies nie. Ek is ingestel om in my gees te hoor wat Jesus sê. Dit is die lekkerste ding vir my om later terug te gaan en dit weer en weer te lees en dit is waar ek gewoonlik kreatief raak.Ek verkies om nie my notas in my Bybel te doen nie want ek voeg voortdurend nuwe notas by. Dit maak vir my meer sin om dit in ‘n aparte mooi boek te doen waarin ek meer spasie het en myself kan uitleef wanneer ek wel by die kreatiewe proses kom. Ek kyk so daarna: my Bybel joernaal is vir my eerder die finale boek waarin ek my notas gaan verewig. Ek sal vir ‘n lang tyd ‘n studie doen oor ‘n sekere onderwerp soos die Here my lei. Ek wil uiteindelik ‘n mooi boek  maak van dit wat ek geleer het wat ek oor en oor kan lees. Wie weet dalk kan die boeke my kinders se erfenis word. En al sou dit niks vir niemand anders beteken nie, dan sal dit nogtans vir my iets beteken. Maar van een ding is ek oortuig, ek wil nie my Bybel so bekrap dat ek later nie meer die woorde kan sien nie- my persoonlike keuse, want ek weet ek skryf BAIE notas!




As ‘n kunstenaar en illustreerder was dit nog altyd vir my die lekkerste ding om prentjies van allerhande allerdaagse dinge te teken. Dit het ook ‘n doel gevind. Ek skep nou vir myself mooi versierings wat ek dan in my boeke kan sit. Ek het dit met ander begin deel en gevind dat hulle dit ook graag gebruik. Gewoonlik was dit in Engels maar ek wil baie graag meer Afrikaanse materiaal begin maak as daar belangstelling is.

As jy Afrikaans is en hier lees, sal ek graag van jou wil hoor!


Nuwe waterverf kaartjies met fynbos-kuns

Die mooie Danabaai is bekend vir pragtige natuur, fynbos en die bekoorlike see. Dit is so rustig hier dat jy nie anders kan as om te ontspan...